Aanbieder

Hou Links

Op die bitter jong ouderdom van 18 het ek Bloemfontein verlaat om die groot wye wêreld te gaan verken, en al die wonders wat dit beloof te gaan delf. Sedertdien het ek in baie dorpe en stede gewoon, in ‘n verskeidenheid lande gewerk (ek het soms selfs vir ander geleer om te skubaduik), en alle soorte weivelde getoets – net om tot die gevolgtrekking te kom: Bloem is die beste!

Ek is sedert 2007 in die media en na my studies het ek begin as ‘n nuweling in die wêreld van dagblaaie. As joernalis het ek byna alle platforms in die media gedek – van skryf vir ‘n dagblad; werk aan weeklikse tydskrifte; ook in televisie en aanlyn. Tussendeur was daar weer ‘n paar draaie in die buiteland – ek moes net vir oulaas ‘die droom uitleef’… Toe het die radiogogga gebyt, wat my laat besef het dat om in radio te werk, eintlik die droom is.

By Rosestad 100.6 FM is my hoofrol dié van nuusredakteur – om onder meer te verseker dat kwaliteit joernalistiek gehandhaaf word – en ‘n yweringe span te lei! Maar die groot pret is natuurlik op weeksdae – van 15:00 tot 18:00 – waar ek mede-aanbieder van die bekende middagprogram, Hou Links, is. ’n Mens moet tog bly vasklou aan die ligter kant van die lewe!

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×