TENNIS – Sorana Cîrstea het vir sekerlik een van diè grootste opskuddings in 2023 gesorg toe die Roemeen die Aussie kampioen en 2de beste speler in die wêreld Aryna Sabalenka uitgeskakel het en sodoende deurgedring het na die halfeindronde by die Miami Ope.
Cîrstea – wat nommer 74 in die wêreld is – het Sabalenka eenvoudig van die baan af gespeel met ’n telling van 6 – 4 en 6 – 4 en kom nou teen Petra Kvitova te staan wat met Ekaterina Alexandrova afgereken het.
In die ander halfeindronde wedstryd sal Elena Rybakina sake teen Jessica Pegula uitspook vir ’n plek in môre se eindstryd.
In die mans afdeling het Jannik Sinner ook sy plek in die laaste ronde van 4 bespreek toe hy Emil Ruusuvuori gestoomroller het in 2 skoon stelle en ontmoet nou die wêreld Nommer 1 en verdedigende kampioen Carlos Alcaraz wat Taylor Fritz maklik uitoorlê het.
Karen Khachanov het ook min moeite teen Francisco Cerundolo ondervind met ’n oorwinning van 6 – 3 en 6 – 2 en pak Daniil Medvedev wat ook die Amerikaner Christopher Eubanks se sprokiesverhaal by Miami tot ’n einde gebring het.