TENNIS – Die wêreld nommer 1 Novak Djokovic moes vir ‘n 2de agtereenvolgende wedstryd in die Australiese Ope na ’n hoër rat oorskakel toe ’n plaaslike ongekeurde speler Alexei Popyrin hom laat rondskarrel het om uiteindelik in 4 stelle te kon seëvier.
Die 24-jarige Aussie het die 2de stel gewen maar moes toe hy ook voor was met 3 – 2 in die 3de ’n mediese blaaskans neem vir ’n beenbesering en kon ook nie die 4 stelpunte in sy guns teen Djokovic afdwing nie.
In die vroue afdeling het die 16-jarige Mirra Andreeva sekerlik een van die grootste oorwinnings in haar jong loopbaan behaal toe sy die 6de gekeurde Ons Jabeur met 6 – 0 en 6 – 2 huistoe gestuur het in slegs 54 minute.
Die voormalige wêreld nommer een Caroline Wozniacki moes ook haar vliegkaartjie terug huistoe bespreek toe die 20-jarige Maria Timofeeva met 1 – 6 , 6 – 4 en 6 – 1 die septer teen haar kon swaai.