Die omstrede Duitse stoutseun van tennis Alexander Zverev is weer in die warm water nadat hy in sy oorwinning in die Madrid-Ope beweer het dat daar fout is met die elektroniese stelsel wat aandui of balle in of uit die baan wip.
Zverev – wat die topgekeurde by Madrid is – het die laaste 16 bereik nadat hy Alejandro Davidovich in drie stelle geklop het. Dit was egter in die tweede stel waar hy hom vervies het nadat die opsporings-tegnologie aangedui het Davidovich se rughandhou binne die lyn gewip het.
Zverev het egter appél aangeteken by die skeidsregter Mohammed Lahyani waar dit toe van die hand gewys is. Die Duitser het toe sy selfoon uitgehaal en ’n foto van dié merk afgeneem waarna hy gewaarsku is vir onsportiewe gedrag.
Vroeér die maand het die wêreld se nommer een vroue speler Aryna Sabalenka ook die akkuraatheid van die stelsel betwis nadat sy in ’n toernooi in Stuttgart ook ’n fotot van die balmerk geneem het.
Die ATP-reeks het vanjaar die elektroniese tegnologie vir al sy toernooie aanvaar en met die tradisionele lynregters weggedoen.