Die Suid-Afrikaanse tennisspeler, Lloyd Harris, het sy terugkeer na die baan met ’n oorwinning gevier nadat hy in Oktober 2024 ‘n rugoperasie in Kaapstad ondergaan het.
Harris se laaste wedstryd was by verlede jaar se Wimbledon toernooi waar hy in vyf stelle deur Ben Shelton in die tweede ronde uitgeskakel is.
Harris het Dinsdag in die eerste ronde van die Challenger-toernooi in Chennai in Indië vir Yurii Dzhavakian van Oekraïne in drie stelle geklop.
Die 27-jarige Harris, wat die tweede gekeurde speler by diè toernooi is, kon met 6 – 3 , 5 – 7 en 6 – 0 die septer swaai en sal volgende teen Tsjeggië se Dalibor Svrcina te staan kom.