TENNIS – Die 2022 Wimbledon kampioen Elena Rybakina sal môre teen die 5de gekeurde Aryna Sabalenka te staan kom in die eindstryd van die Australiese Ope.

Sabalenka speel ook in haar 1ste Grand Slam eindstryd nadat sy met die ongekeurde Magda Linette afgereken het in die halfeinronde met ’n telling van 7 – 6 en 6 – 2 terwyl Rybakina haar 2de eindstryd uit 3 Grand Slam toernooie gehaal het toe sy die 2012 en 2013 kampioen Azarenka ook in 2 skoon stelle kon troef.

Die 3de gekeurde Stefanos Tsitsipas sal hoop dat dit 4de keer skeepsreg is wanneer hy en Karen Khachanov mekaar vanoggend in die 1ste halfeindronde pak terwyl ‘n opdraende stryd wag op die ongekeurde Tommy Paul waar hy gaan probeer om Novak Djokovic te stuit wat op soek is na sy 10de Aussie Ope titel in Sondag se eindstryd.

Beide wedstryde begin om 10:30 (SA Tyd).    

Dit is vandag ook ’n groot dag vir die Suid-Afrikaanse rolstoelspeler Donald Ramphadi.

Ramphadi en sy Brasiliaanse dubbelspelmaat Ymanitu Silva speel in die eindstryd teen die topgekeurde Nederlanders Niels Vink en Sam Schroder. Ramphadi en Silva het Woensdag vir ’n opskudding gesorg toe hulle die 2de gekeurde David Wagner en Andy Lapthorne in 2 stelle verslaan het. Die telling was 7 – 5 en 6 – 3.

Ramphadi is die 1ste S.A. rolstoelspeler in die dubbels-eindstryd sedert sy landgenoot Lucas Sithole diè prestasie kon vermag het in 2016.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×