TENNIS – Met reën in die lug en die reuk van gras en natuurlik aarbeie en room is toeskouers gister begroet by die 135ste Wimbledon tennis toernooi wat by die All England Club begin het.

Onder die dames het die 2de gekeurde Anett Kontaveit  vir Bernarda Pera op ‘n drafstap geklop , Ons Jabeur  het ook geen teenspoed teen Mirjam Bjorklund ondervind nie terwyl  Diane Parry ook teen  die 31ste gekeurde Kaia Kanepi met 6 – 4 en 6 – 4 geseëvier het.

In die mans afdeling het die plaaslike held Cameron Norrie vir Pablo Andujar maklik in 3 stelle gewen terwyl Andujar se landgenoot die 5de gekeurde Carlos Alcaraz harde bene moes kou om in ‘n wedstryd van meer as 4 ure teen Jan-Lennard Struff in 5 stelle te gewen het.

Die openingsdag het soos in die verlede weer ‘n top gekeurde geëis toe die nommer 7 Hubert Hurkacz deur Alejandro Davidovich in ‘n marathon wedstryd van 5 stelle uitgeskakel is. Die verdedigende kampioen Novak Djokovic  het ook sy aanhangers byna aan ‘n stukkie aarbei laat stik toe hy  die 2de stel teen Kwon Soon-woo verloor het maar het daarna homself reggeruk en die volgende twee stelle redelik maklik ingepalm.

Die ander groot name wat vandag in aksie sal wees is die 2de gekeurde Rafael Nadal en Stefanos Tsitsipas wat vanjaar 4de gekeur is terwyl wêreld nommer 1 Iga Swiatek en 5de gekeurde Maria Sakkari ook hul toernooi afskop.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×