Thabo Bester, veroordeelde moordenaar en verkragter, word vanoggend vir die voortsetting van sy hoëprofiel ontsnappingsaak in die Bloemfonteinse hooggeregshof verwag. Hy sal na verwagting vandag sy jongste regsverteenwoordigingsplan met die hof deel. Dit volg nadat Bester se derde regspan hom onlangs aan die saak onttrek het.
Bester het homself in Junie verteenwoordig, toe hy by die hof gepleit het om hom die doodstraf op te lê. Aangesien die doodstraf nie in SA-wetgewing vervat word nie, het Bester voorgestel die publiek moet ‘n petisie onderteken om te vra dat hy ter dood veroordeel word. Bester, dokter Nandipha Magudumana, en sewe ander staan in beskuldiging vir sy 2022-ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis.