Thabo Bester, veroordeelde moordenaar en verkragter, verskyn vandag weer saam met sy 8 medebeskuldigdes in die Bloemfonteinse hooggeregshof. Sy regspan het waarskynlik reeds hofstukke ingedien oor Bester se kommer oor die regverdigheid van sy verhoor, asook vertwyfeling oor jurisdiksie van die hof.
Voorts vra Bester die hof om in te gryp, aangesien hy beweer hy word onregverdig deur die departement korrektiewe dienste behandel. Hierdie aantyging word egter deur korrektiewe dienste ontken. Bester, sy vriendin dokter Nandipha Magudumana, haar pa, en ses ander staan tereg op verskeie aanklagte wat verband hou met Bester se 2022-ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis.