Die sogenaamde Facebook-verkragter, Thabo Bester se hofverskyning was vandag virtueel vanuit die Kgosi Mampuru II tronk.
Bester het saam met sewe ander medebeskuldigdes vir die eerste keer saam verskyn.
Dit sluit sy lewensmaat, Nandipha Magudumana, en haar pa in.
Bester het in Mei verlede jaar uit die Mangaung-tronk by Bloemfontein ontsnap toe sy selfmoord voorgestel is deur die lyk van ‘n onbekende man aan die brand te steek.
Die man is intussen geidentifiseer as Katlego Bereng.
Bester het glo met ‘n bewaarder se uniform by die tronk se hekke uitgestap.
Bester het aangedring om self in die hof te verskyn.
Sy regsverteenwoordiger het vandag gevra dat Bester na die hof gebring word om seker te maak dit is Bester.
Die saak is uitgestel tot 20 Junie.