Die prokureurs wat die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester verteenwoordig, het vandag hul regsverteenwoordiging teruggetrek. Die onttrekking kom ‘n dag voordat sy opdraggewende prokureur, Tshireledzo Ndou, in die hof verskyn vir poging tot verkragting en aanranding. ‘n Nuwe prokureur, Kabelo Matee, is op rekord geplaas om Bester te verteenwoordig. Advokaat Jeremiah Pela het die regter van die terugtrekking ingelig. Bester het via videoskakel van die Kgosi Mampuru-korrektiewe sentrum in Tshwane voor die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Netwerk 24 berig die staatsaanklaer, Sello Matlhoko het gesê nog minstens drie verdagtes sal teen die volgende verskyning by die nege beskuldigdes aansluit. Die saak is tot 8 Augustus uitgestel.