Tien mense is in Maleisië dood toe twee weermaghelikopters tydens ‘n vlootparade in die lug teen mekaar gebots het. AFP en die SAUK berig die ongeluk was by die Lumut vlootbasis in die staat Perak. Die oorskot van die slagoffers is na die hospitaal op die basis geneem, sodat uitkenning kan plaasvind.
Hulle is vermoedelik almal jonger as 40 jaar. Volgens videomateriaal het die helikopters in formasie gevlieg toe die skroef van die een helikopter ‘n ander getref en albei neergestort het. Die helikoptervertoning sou Saterdag deel van die 90ste bestaansjaarvieringe van die Maleisiese vloot wees.