Vier mense is dood, en minstens 77 mense is regoor Taiwan vasgekeer nadat die sterkste aardbewing in 25 jaar die eiland se ooskus getref het.

CNN berig die owerhede het nie uitgebrei oor die toestand van die vasgekeerdes nie, maar het gesê dat reddingsoperasies aan die gang is. Volgens die Nasionale Brandweeragentskap het die aardbewing van 7,4 ook meer as 700 ander beseer. Van die beseerdes is 132 in Hualien County, naby die episentrum van die aardbewing.

Minstens 26 geboue het ineengestort toe die aardbewing met ‘n diepte van 15-komma-vyf kilometer omstreeks agtuur die oggend voorgekom het.

Meer as 50 na-skokke is volgens Taiwan se sentrale weerdiens in Taipei gevoel. Taipei het egter nie enige noemenswaardige skade opgedoen nie. Die aardbewing het gelei tot tsoenami-waarskuwings in die streek – wat sedertdien opgehef is.

error: Inhoud is beskerm !!