Na die skietery op ‘n lodge bestuurder in Limpopo het die Nasionale Akkommodasievereniging van SA ‘n beroep op die polisie gedoen om dringend in te gryp.
Die skietslagoffer, Emily Leunet, sal na bewering nie weer kan loop nadat sy glo deur ‘n ontevrede werknemer in haar ruggraat geskiet is. Die werknemer is na ‘n dissiplinere verhoor ontslaan waarna hy op Leunet geskiet het – voordat hy sy eie lewe geneem het.
Volgens die voorsitter van die akkommodasievereniging, Rosemarie van Staden, loseer misdadigers of verdagtes dikwels in gastehusie – wat die lewens van personeel in gevaar stel. Sy voeg by dat hulle biometriese stelsels van die polisie benodig, sodat vingerafdrukke geskandeer kan word en hul sodoende gewaarsku kan word indien verdagtes gesoek word.
Van Staden sê ook dat die polisie dikwels nie aandag aan die verslae van verdagte pesone gee nie, en dat hulle dan moet hoop dat niks verkeerd gaan nie. Die polisie het volgens IOL nog nie op die voorval kommentaar gelewer nie.