Daar word nou op die nadoodse-ondersoekverslag van wyle Tina Joemat-Pettersson gewag.
Sy het twee dae voor haar dood, met teenkorrupsie-ondersoekers vergader, om haar beëdigde verklaring oor die R228 miljoen Estina-suiwelplaas-saak te finaliseer.
Joemat-Pettersson was die minister van landbou, bosbou en visserye toe Estina deur die Vrystaatse landboudepartement aangestel is om ’n suiwel-projek by Vrede in die Vrystaat te begin.
Die Estina-saak, waarby die Guptas vermoedelik betrek word, hervat einde Augustus in die hooggeregshof in Bloemfontein. Joemat-Pettersson is verlede Maandag in haar huis in Kaapstad dood.
Intussen berig Netwerk24 die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat meen bewerings in die media is “misleidend” dat Tina
Joemat-Pettersson ondervra is oor die moontlikheid dat sy by ‘n omkopery betrokke was.
Hiervolgens sou Joemat-Pettersson en ander ANC-LP’s skynbaar omkoopgeld gevra het, van David Skosana, die eggenoot van advokaat Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer.
Die omkoopgeld is na bewering gevra om die artikel 194-ondersoek na Mkhwebane se geskiktheid vir haar amp, te laat verdwyn. Skosana het ‘n klag van afpersing by die polisie ingedien.