Nadat die polisie in Bloemfontein glo deur die burgemeester aangesê is om uit die suidelike besettingsgebied pad te gee, is polisiebeamptes intussen weer in die Lourierpark-omgewing ontplooi. ‘n Top-beampte van een van die polisie se spesiale eenhede, het op voorwaarde van anonimiteit, aan Rosestad-nuus gesê die polisiediens in Bloemfontein behoort hom te skaam vir die manier waarop die grondbesetting hanteer word.
Hy sê hoewel sekere lede wel in die omgewing ontplooi is, kan hy dit ten beste as ‘n B-span-poging beskryf. Rakende die burgemeester se beweerde opdrag, wat strydig is met 'n geldige hooggeregshof-uitsettingsbevel, kon hy sy ore nie glo nie. Volgens hom staan die polisie in diens van die land se regstelsel, en is die veiligheid van die land se mense die SAP se eerste prioriteit.
Intusssen loop gemoedere in die ganse metro hemelhoog: Dit wat in Bloemfontein broei is niks anders nie as ‘n burgeroorlog. Burgerlike groepe en veiligheidsforums in die
Mangaung-metro, praat asof uit een mond, wanneer hulle sê dit het nou ‘n oorlog geword tussen inwoners wat belasting betaal en diegene wat weier om dit te doen. ‘n
Verteenwoordiger van een van die stad se grootste burgerlike organisasies wat hom vir veiligheid en vooruitgang beywer, het aan Rosestad-nuus gesê elke soortgelyke
organisasie is slag gereed om in te spring indien die geweld in die suide in sou toeneem.
Hy het op voorwaarde van anonimiteit gesê hulle is nie bang nie. In teendeel sê hy dat die hele netwerk se ingesteldheid een is van, “Bring it on.” Volgens hom is belastingbetalers in die metro reeds ver verby keelvol dat hulle alleen die juk moet dra om derduisende ander aan die lewe te hou. Hy sê die Lourierpark-grondbesetting is maar net nog ‘n voorbeeld van hoe mense daarmee wegkom om alles verniet te kry.