Die ses swaar gewapende transito-rowers wat gisteroggend na bewering by ‘n transitorooftog in Bloemfontein betrokke was, is gistermiddag in ‘n jaagtog met die polisie sowat 20km naby Bothaville aangekeer. Die polisie en private veiligheidsmaatskappye het die verdagtes aangekeer, het kaptein Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie gesê. Die verdagtes is onderskeidelik 35, 39, 40, 44 en 45 jaar oud en kom van Boksburg, Benoni, Thembisa, Springs en Soshanguve. Thakeng het gesê ‘n 72-uur-plan is geaktiveer na die rooftog wat omstreeks ses-uur op die hoek van Millstraat en Vooruitsigstraat plaasgevind het. ‘n Wit bakkie met ‘n Gauteng-registrasie en ‘n geel lig op die dak is opgemerk en na ‘n jaagtog verby Bultfontein en Welkom tot stilstand gebring. Outomatiese gewere is by die ses verdagtes gevind.