Transnet sê hy is optimisties dat ‘n ooreenkoms met die vakbond Untu bereik kan word om ‘n staking te verhoed.

SABC-nuus berig die vakbond is besig om sy lede te raadpleeg om ‘n mandaat vir ‘n staking te bekom.

Untu het vroeër vandeesweek gesê dat pogings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie om ‘n ooreenkoms te bereik, op ‘n dooiepunt uitgeloop het.

Werkers eis ‘n verhoging van tien persent, sowel as ‘n verbintenis dat geen afleggings sal plaasvind nie. Transnet bied ‘n verhoging van ses persent vanjaar en aanstaande jaar, en ‘n verhoging van vyf-komma-vyf persent in die derde jaar aan.

‘n Woordvoerder van Transnet, Ayanda Shezi, sê hulle gaan intussen voort met pogings om Transnet reg te ruk en in die beste belang van werknemers en die organisasie op te tree.

error: Inhoud is beskerm !!