Die polisie in Navalsig ondersoek ‘n dubbelmoord op twee bejaardes van Ryk Tulbach straat in die stad. Die woordvoerder van die polisie in Bloemfontein, lt kol Thabo Covane, het gesê die polisie het gisteraand ‘n oproep van ‘n bekommerde familievriend gekry nadat die egpaar Sondag laas deur bure gesien is. Die polisie het op die liggaam van die bejaarde 77-jarige man afgekom wat naby ‘n deur in ‘n plas bloed gelê het. Die 71-jarige vrou se liggaam is in die huis gekry. Die bejaardes het altwee veelvuldige wonde gehad en volgens die polisie lyk dit asof hulle met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan is. ‘n Span kundiges van die polisie het die moordtoneel besoek om leidrade te kry. Indien enigiemand inligting het oor die moord kan hulle adjudant-offisier Shuping Fihla skakel by 082 4656 040.