Twee Centlec-werknemers is tydens ‘n ontploffing by ‘n substasie beseer. Volgens Centlec-woordvoerder, Lele Mamatu, het hulle ‘n klagte oor lae spanning in die Brandwag-omgewing, in Bloemfontein, ontvang.
Tydens ‘n ondersoek by die substasie was daar ‘n ontploffing. Beide werknemers is na die hospitaal gejaag, terwyl ander op die toneel vir skok behandel is. Centlec sê hulle sal na hul ondersoek meer inligting verskaf.
Elektrisiëns en tegnici is op die terrein besig om die toneel skoon te maak en te verseker dat krag na die gemeenskap van Brandwag herstel word.
Centlec sê hulle gedagtes en gebede is by die twee werknemers se families, vriende en kollegas. Die organisasie se welstandafdeling is gereël om medewerknemers met berading by te staan.