Twee hoërskoolleerlinge is binne minder as ‘n week in twee onverwante voorvalle in verskillende dele van die land doodgesteek.

In die mees onlangse voorval is ’n 20-jarige matriekleerling van die Ben Hlongwane High School buite Mokopane in Limpopo, die naweek met steekwonde dood buite die skool gekry.

Die oorledene en ‘n paar ander matrieks het ten tyde van die voorval ‘n studie-kamp by die skool bygewoon om vir die eindeksamen voor te berei.

Intussen vra die polisie mense in Bloemfontein se hulp, nadat die 20-jarige Thato Matlakala, ‘n graad 11-leerling aan die Kaelang Secondary School in Rocklands, Dinsdag doodgesteek is.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder het ‘n groep mans met gevaarlike wapens Matlakala en sy vriende aangeval terwyl hulle van ‘n winkel af teruggestap het.

Hulle het gevlug, maar Matlakala het gestruikel en geval, en is verskeie kere gesteek.

Hy is met ‘n private motor hospitaal toe geneem, maar is met sy aankoms dood verklaar.

Hoewel die motief vir die moord onbekend is, word daar vermoed dat hierdie voorval moontlik bendeverwant kan wees.

Mense met inligting oor enige van hierdie twee onverwante voorvalle word gevra om die Stop Misdaad-nommer by 08 600 10 111 te bel.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×