Het jy al die grappie oor die kameelperd se nek gehoor?…………………wel, dis ‘n lang een!
Twee van die wêreld se langste diere het gister geblindoek en ongeskonde in die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill in Bloemfontein aangekom.
Praat van ‘n toe-oog-afspraak, want met die aankoms van die twee “dames,” sal hulle nou aan die twee bulle wat in die reservaat is, “voorgestel” word.
Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, het gesê dié organisasie werk reeds meer as drie jaar daaraan om die kameelperde hierheen te bring.
Albei koeie is afkomstig van die Weltevreden-wildplaas buite Bloemfontein.
Professor Francois Deacon van die departement vee, wild en weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het met die verskuiwing van die kameelperde gehelp,
terwyl doktor Willem Daffue, ’n Kroonstadse veearts, die verdowing van die kameelperde hanteer het.
‘n Volwasse kameelperd kan tot soveel as ‘n allemintige 5,5 meter in sy hoewe staan.