Twee kontroversiële uitsprake wat gister in die land se howe gelewer is, kan moontlik tot grootskaalse protesoptrede lei.
Dit volg ná hofuitsprake in twee afsonderlike sake, oor onderskeidelik oudpresident Jacob Zuma en die Poolse immigrant, Janusz Walus.
Daar is beslis dat Zuma weer by die Estcourt-tronk moet aanmeld om die res van sy 15 maande tronkstraf uit te dien.
Hierdie uitspraak het Zuma-ondersteuners meer as net warm onder die kraag.
Walus, die veroordeelde moordenaar van Chris Hani, het gister gehoor dat hy binne tien dae op parool vrygelaat kan word.
Dié aanbeveling het heftige reaksie van veral die SAKP en die EFF ontlok, en albei partye het laat blyk dat dit tot grootskaalse, landwye onrus kan lei.
Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur monitor die situasie en is volgens die polisie gereed om op enige gebeurlikheid te reageer.