Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die naweek met die president van die Wêreldbank, David Malpass, vergader om finansiering te finaliseer om die Komati-steenkoolkragstasie in Mpumalanga, wat onlangs uit bedryf gestel is, in ’n kragstasie vir hernubare energie te omskep.

Suid-Afrika het die Wêreldbank gevra vir ʼn nege miljard rand konsessielening.

Die lening sal Komati die eerste groot steenkoolkragstasie in die land maak wat omskep word in ‘n hernubare kragstasie.

Malpass sê hoewel die vermindering van kweekhuisgasvrystellings wêreldwyd moeilik bly, bly hy vol vertroue in Suid-Afrika se vermoë om sy teikens vir regverdige energie-oorgang te bereik.

Intussen het die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, gister gesê hy ondersteun Suid-Afrika se oorgang na hernubare energie, mits ontwikkelde lande daarvoor betaal.

Die minister se reaksie volg op president Cyril Ramaphosa se plan om Amerikaanse regeringsfinansiering te bekom vir ‘n multitriljoenrand-plan om na ‘n nul-koolstofekonomie oor te skakel.

Mantashe het gesê die lening is broodnodig.

Hy meen ontwikkelde lande is verantwoordelik vir globale besoedeling.

Intussen het die Verenigde Nasies se COP27-beraad oor klimaatsverandering in Egipte begin, met ’n waarskuwing dat ons planeet in nood is.

Meer as 120 wêreldleiers, wat president Cyril Ramaphosa insluit, woon dié beraad van twee weke by.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×