Twee politieke aktiviste, Willem Petzer en Tewie Wessels, het hulself Maandag in Groblersdal in Limpopo aan die polisie oorgegee. Maroela Media berig dit volg nadat die polisie aangedui het dat hulle die twee, asook ʼn inwoner van die dorp, vandag gaan arresteer.
Die twee sal vandag saam met die leier van die Bittereinders, Francois van der Merwe, in die hof verskyn. Die presiese klagte teen die drie is nog nie duidelik nie. Petzer is bekend vir sy kritiek teen die Suid-Afrikaanse polisie en dat hy ook gereeld werk om fondse in te samel vir verskeie hofsake teen Afrikaanse boere. Gerugte dat nog ‘n mededirekteur van die Bittereinders vandag in hegtenis geneem gaan word, kon nie bevestig word nie.
Petzer en Wessels was twee paar weke gelede deel van ‘n betoging buite die landdroshof in Groblersdal tydens die borgtogsaak van die 63-jarige Piet Groenewald en die 27-jarige Stephan Greeff in die omgewing wat na bewering n werker aangerand en ʼn hond op hom losgelaat het. Sowat ‘n honderd betogers het twee weke gelede op die dorp toegesak met die Transvaalse Vierkleur om die twee verdagtes se vrylating te eis.