Twee seeskilpaaie wat by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad gerehabiliteer is, het reeds duisende kilometers afgelê en die wêreld ontdek. Netwerk 24 berig die Twee Oseane akwariumstigting se skilpadbewaringsentrum het Pan in Julie verlede jaar vrygelaat en hy het reeds meer as 11-duisend kilometer geswem. Turbo, wat in Desember vrygelaat is, het reeds meer as nege-duisend kilometer afgelê. Talitha Noble, bewaringsbestuurder van die skilpadbewaringsentrum het gesê die skilpad wat die verste nog geswem het, Yoshi, is in 2017 vrygelaat en het meer as 40-duisend kilometer in 1003 dae afgelê. Hy het eers in die rigting van Angola geswem en toe oor die Indiese Oseaan na Noord-Australië. Pan, ‘n karetskilpad, se rehabilitasie het in 2019 begin omdat hy herhaaldelik oor-en beeninfeksie ontwikkel het. Turbo het in 2021 plastiek ingekry en is by De Hoop Natuurreservaat gered, maar het gou herstel. Die skilpaaie swem met opsporingstelsels as deel van die akwarium se navorsingsprogramme.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×