Twee verdagtes is aangekeer vir die grumoorde op die 73-jarige Christo Morrison en sy vrou, Christa van die plaas Rietfontein by Glen. Die Morrison-egpaar se lyke is op 4 Mei in putte op hul plaas gekry. Die polisie se provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, het op die dieselfde dag wat die Morrison-egpaar in Bothaville ter ruste gelê is, inligting ontvang oor waar die verdagtes hulle bevind.
Polisiewoordvoerder, Peter Kareli, het gesê die span is Vrydag saam met lede van die Welkom se taktiese reaksie-span na ‘n gastehuis in Bloemhof waar die twee mans, onderskeidelik 39 en 26-jaar oud, in hegtenis geneem is. Die bejaarde egpaar se selfone is in die verdagtes se besit gevind. Die twee sal binnekort in die landdroshof in Bloemfontein verskyn op aanklagte van huisroof en twee aanklagte van moord.