‘n Man en ‘n vrou is in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met die moord op Jacques Freitag. Daar word berig ‘n liefdesdriehoek – waarby een van Freitag se vriende glo betrek word – het daartoe gelei dat die eertydse hoogspring-wêreldkampioen, na bewering geld sou aanvaar om huurmoord te pleeg. Die twee verdagtes, wat gister in Sabie vasgetrek is, sal eersdaags in Pretoria in die hof verskyn, en sal van moord en sameswering tot moord aangekla word.
Freitag is middel Junie as vermis aangemeld. Sy liggaam is twee weke later, met verskeie skiet- en steekwonde, by die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-wes gevind. Rosestad-nuus het vroeër berig Freitag het glo voor sy dood in vrees geleef, aangesien hy oortuig daarvan was dat hy iemand vermoor het.