Die pa van die dogter wat glo die veroordeelde reeksverkragter en moordenaar Thabo Bester help ontsnap het, het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Netwerk 24 berig die 65-jarige Zolile Sekeleni, dr. Nandipha Magudumana se pa, en Senohe Matsoare, ‘n voormalige werknemer van die G4S-veiligheidsmaatskappy wat die Mangaung-gevangenis buite Bloemfontein bestuur het, het op aanklagte van medepligtigheid en dwarsboming van die gereg in die hof verskyn. Sekeleni is Vrydag in Port Edward in hegtenis geneem en Matsoare Saterdag by sy huis in Bloemfontein. Die verhoor is tot 17 April uitgestel vir ‘n formele borgtog-aansoek. Hulle bly in aanhouding. Bester, bekend as die Facebook-verkragter, is in 2012 tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens moord en verkragting. Bester en dr. Magudumana is Vrydag in Tanzanië, sowat 10 kilometer van die grens met Kenia, in hegtenis geneem.
