Twee verdagtes wat toegang tot alle inligting van ‘n e-betalingsdiens gekry het, is gister deur die Valke, Misdaadintelligensie en die taktiese reaksie-eenheid in Kaapstad in hegtenis geneem. Die twee verdagtes, ‘n 34-jarige en ‘n 42-jarige man, sal Maandag in die landdroshof in Bellville verskyn op ‘n aanklag wat verband hou met die Wet op Kubermisdade. Volgens die Valke is een van die verdagtes ‘n werknemer van Ecentric Payment en die ander ‘n voormalige werknemer. Die twee het glo sagteware op Ecentric se stelsels gelaai wat kuberkrakers toegang tot verskeie dele van die betalingsdiens se IT-stelsel gegee het. ‘n Ander persoon het Ecentric gekontak en ‘n losprys geëis anders sou hulle alle data van die betalingsdiens bekendmaak. Ecentric het meer as R700 000 aan die kuberkrakers betaal voordat die afpersing aan die Valke gerapporteer is. Genl maj Mathipa Makgato, hoof van die Valke in die Wes-Kaap, het aan Netwerk 24 gesê dit is nie uitgesluit dat ‘n sindikaat betrokke is nie. Die ondersoek duur voort.
