Uitspraak word Saterdag verwag in die MK-party se dringende aansoek teen die Regterlike Dienskommissie (RDK).
Die party vra vir ‘n verklarende bevel dat die RDK se besluit om aanstaande week voort te gaan met sittings, ongrondwetlik was.
SABC-nuus berig die party het die RDK versoek om sy sittings uit te stel, nadat die voormalige regter, John Hlophe, ingevolge ‘n hofbevel tydelik verbied is om aan die werksaamhede van die Kommissie deel te neem. Die RDK het die versoek geweier.
Die regsverteenwoordiger van die DA, Michael Bishop, het betoog dat die RDK rasioneel opgetree het deur uitstel te weier, omdat die uitstel van onderhoude vir vakante regtersposte verreikende gevolge kan hê, wat ook vrugtelose en verkwistende uitgawes insluit.
Die MK-party het ook gevra vir ‘n hofbevel teen die sitting, as alternatief vir ‘n verklarende bevel.