Die raad vir gehalteversekering in onderwys, Umalusi, het die uitslae van die matriekeksamen van 2023 goedgekeur en sê hy onderskryf die integriteit en geloofwaardigheid van die uitslae. Meer as 1,1 miljoen leerlinge het verlede jaar die nasionale senior sertifikaat-eksamen afgelê. Luidens SABC-nuus het die bestuurshoof van Umalusi, Mafu Rakometsi, kommer uitgespreek dat daar foute in sommige vraestelle voorgekom het, wat ‘n wesenlike uitwerking op sommige leerlinge se punte gehad het. Volgens Umalusi is 16 persent van die eksamen-uitslae opwaarts aangepas, 18 persent afwaarts, terwyl die eksamen-uitslae van 66 persent van die vakke onveranderd gelaat is.