Die Universiteit van Suid-Afrika, of Unisa, sê hy sal die minister van Hoër Onderwys se besluit om die instelling onder administrasie te plaas, betwis. Minister Blade Nzimande het professor Ihron Rensburg as die universiteit se administrateur vir die volgende twee jaar aangestel. Volgens die universiteit was Nzimande se aankondiging voortydig en in minagting van die hof. Regter Harshila Kooverjie het vroeër vandeesmaand die minister verbied om Unisa onder administrasie te plaas. Nzimande se besluit is geneem na ‘n Onafhanklike Assessorverslag wat korrupsie en wanadministrasie by die universiteit bevind het.
