Die vakbonde Cosatu en Saftu, asook ander vakbonde, wil met hashtag NationalShutdown die land Woensdag tot stilstand ruk met wegbly-aksies deur werknemers. Cosatu se president, Zingiswa Losi, het vroeër aan die media gesê dié beskermde nasionale staking, waarmee hulle die land se werksaamhede wil stuit, is bedoel om druk op die regering én op die private sektor uit te oefen, om die sosio-ekonomiese uitdagings wat steeds Suid-Afrikaanse huishoudings teister, reg te stel en op te los.
Intussen het Herman Lombaard van National Crime Assist in Bloemfontein aan Rosestad-nuus gesê dit is moeilik om presies te voorspel wat Woensdag se staking hier gaan oplewer. Hy het egter gesê dat vreedsaamheid nie gewaarborg is nie en dat mense op hulle hoede moet wees. Hy raai inwoners aan om hul beplanning so te doen dat hulle hoë risiko areas vermy. Die optog-roete in die Mangaung-metro sal waarskynlik vanaf Batho na die munisipale kantore wees. Volgens Lombaard bestaan die moontlikheid dat verskeie partye en groeperings môre kan saamspan met deelname aan dié reusestaking.