‘n Beroep is op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake gedoen om gedeeltes van die land wat deur veldbrande verwoes is, tot rampgebiede te verklaar.

AgriSA se hoof, Christo van der Rheede, sê boere in vyf provinsies, waarvan die Vrystaat een is, sit met brandskade van minstens een miljard rand.

Nie minder nie as 1,2 miljoen hektaar is deur vlamme verteer. Savage Breytenbach, hoof van die Mangaungse Sambreelorganisasie vir brandbestryders, het aan Rosestad-nuus gesê die afgelope week was daar relatief min brande in die groter Mangaung-omgewing.

Brande wat wel hier ontstaan het, was aan die kleiner kant, en kon vinnig onder beheer gebring word. Daar is egter weer brandwaarskuwings vir die naweek uitgereik.

Net omdat daar plek-plek ‘n paar reënbuie uitgesak het, waarsku Breytenbach dat mense nie vir een oomblik moet dink dit beteken die einde van die brandseisoen nie.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×