Die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) se Ixias het ‘n belangrike oorwinning oor Wits in die Varsitybeker-reeks in Bloemfontein behaal.

Die span van die SUT het met 34-28 gewen, nadat spel vir lank weens weerlig onderbreek is. Met hierdie oorwinning Maandag is hulle verseker dat hulle nie outomaties gerelegeer sal word nie.

Netwerk24 berig die Johannesburgers het in die eerste helfte gebiedsvoordeel en balbesit oorheers, met veral losskakel Matthew Coetzee en binnesenter Setshaba Mokoena wat die Ixias opdraend gegee het.

Kort ná agt-uur is spel weens swaar weer onderbreek. Dit het weer hervat om half-tien toe Wits sommer vinnig weer gaan druk het, maar die Ixias het kort daarna twee keer gaan druk om hul oorwinning te beklink.

Intussen het die ander Bloemfonteinse span – die Shimlas – in Kaapstad pakslae gekry teen die Ikeys met ‘n telling van 40-26. Shimlas se dissipline was deurlopend ‘n probleem, en die eerste geelkaart is reeds in die derde minuut aan losskakel Bradley Giddy vir ‘n hoogvat uitgedeel. Twee ander spelers is ook deur die loop van die wedstryd na die koelkas gestuur.

Tyd het die Shimlas ingehaal en Ikeys het dié keer koning gekraai.

error: Inhoud is beskerm !!