Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) vra vir vaste tariewe vir voorafbetaalde elektrisiteitskliënte.
Dit volg op die Nasionale Energiereguleerder se oproep vir openbare insette oor Eskom se voorgestelde tariefveranderings.
Eskom wil in April elektrisiteitspryse met 36% verhoog. Outa sê hulle erken die noodsaaklikheid vir Eskom om sy koste te verhaal, maar hulle is teen enige veranderinge wat ‘n onregverdige las op verbruikers plaas.
Die organisasie sê Eskom se voorstel om verpligte tyd-van-gebruik-tariewe in te stel vir kliënte met kleinskaalse ingeboude opwekking is diskriminerend.
Outa se uitvoerende direkteur vir aanspreeklikheid, Stefanie Fick, sê tariefopsies moet vrywillig wees en duidelike ekonomiese voordele bied om verantwoordelike energiegebruik aan te spoor.