Altesaam 14 liggame is teen gister uit die Jukskeirivier in Johannesburg gehaal nadat kerkgangers Saterdagaand weens kitsoorstromings deur die Jukskeirivier meegesleur is.
Maroela Media berig die kerkgangers het ‘n doopbyeenkoms langs die rivier in Bramleypark in Johannesburg bygewoon.
EWN het berig twee mense het verdrink toe hulle in die rivier gedoop is, terwyl die ander kerkgangers deur die vloedwater meegesleur is.
Daar is Saterdagaand twee liggame uit die rivier gehaal en een persoon is gered.
Reddingspanne het gister 12 liggame uit die water gehaal.
Hoewel daar geen presiese syfer is nie, het ongeveer 33 mense vermoedelik die doopbyeenkoms bygewoon.
Dit is nie bekend hoeveel mense nog vermis word nie, maar daar word gevrees dat die dodetal kan styg.