‘n Veekoper van Lindley, Jaco Botha, is die week vasgetrek en het reeds in die hof verskyn vir die moord op ‘n 29-jarige boer van Lindley, Christiaan van Tonder. Botha staan tereg op moord nadat van Tonder se liggaam op 29 November 2021 in die Barrage-omgewing naby die Vaalrivier gevind is. Botha word ook aangekla vir veediefstal van sowat R300 000. Maroela Media berig die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, het gesê Van Tonder het 31 beeste aan Botha verkoop. Nadat die beeste oorhandig is, het Botha aan Van Tonder gesê hulle moet met die oorledene se bakkie na ‘n afgeleë plek ry om die betaling te finaliseer. Botha het glo vir Van Tonder in sy bakkie doodgeskiet. Die agterruit van die bakkie was vol koeëlgate. Botha het destyds aangevoer hy het Van Tonder daar vir ‘n sakevergadering ontmoet en hom na vyf-uur die middag die laaste keer lewend gesien. Botha moet weer op 4 September in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Botha is twee weke gelede in Bethlehem skuldig bevind aan veediefstal in ‘n ander saak.