Swart Vrydag is vanjaar op 24 November en ekonome voorspel reeds dat verbruikers eerder noodsaaklikhede gaan koop as luukshede. Suid-Afrikaners gaan weer miljarde spandeer, berig Maroela Media, maar die aankope sal eerder produkte wees soos kos, klere en huishoudelike produkte. Na twee jaar van swak ekonomiese groei sal vanjaar se Swart Vrydag nie die hoogtes bereik soos in 2021 nie, het Steven Heilbron, uitvoerende hoof van Capital Connect gesê. Die pos-pandemiese-tendens gaan eerder voortgesit word wat beteken dat verbruikers na winskopies gaan soek. Capital Connect het onlangs navorsing deur die Buro vir Marknavorsing gedoen en bevind die omset sal vanjaar R26,6 miljard wees. Dit is aansienlik meer as die R19 miljard se verkope van verlede jaar. Produkte wat van die rakke gaan vlieg is hoender, vrugte, groente, kookolie, melk, suiker en toiletpapier. Goedkoper klere wat nie handelsmerke het nie, sal ook gewild wees. Klein huishoudelike toestelle soos tweeplaat-stowe sal ook opgeraap word.