‘n Man wat vir die vermoorde Anneke Claassen van Ohrigstad in Limpopo gewerk het, is vroeg vanoggend in hegtenis geneem.
Netwerk 24 berig die man is in Thembisa aan die Oos-Rand in hegtenis geneem.
Die 73-jarige Anneke Claassen en haar lewensmaat, die 77-jarige Hennie Claassen, wat in aparte huise op die plaas gewoon het, is verlede Saterdag oorval en aan die brand gesteek.
Die bekende Eggo-grotte is op die plaas.
Oud-kolonel Gawie Lourens van Bosveldmisdaad-ondersoeke, wat deur Anneke Claassen se familie aangestel is om die moord te ondersoek, het die man saam met polisie van Gauteng en Limpopo opgespoor.
Die man wat in hegtenis geneem is, sal eersdaags in die landdroshof op Tubatse in Limpopo verskyn.