Die polisie het ‘n 29-jarige verdagte in hegtenis geneem wat ‘n koswaentjie naby die suidelike hek van die Universiteit Vrystaat bedryf. Hy het na bewering ook dagga verkoop. Die waentjie staan geparkeer langs ‘n universiteitshuis in Groenewoudstraat. Kolonel Thabo Covane, woordvoerder van die polisie het gesê die polisie het inligting ontvang dat dwelms by die koswaentjie verkoop word. Covane het gesê toe die polisie Woensdagmiddag daar opdaag, het hulle afgekom op agt groot ziplock-sakke, 28 kleiner sakkies en 27 gerolde dagga zolle asook rezla papier en kontant. ‘n Saak is geopen vir die onwettige handeldryf met dagga. Die verdagte sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.