Verkeersbeamptes van die Mangaung-metro is ontstoke omdat hulle nog nie hul oortydbetaling gekry het vir die Mangaung African Cultural Festival, of Macufe, wat van
2 tot 9 Oktober hier gehou is nie.
Volksblad berig ‘n groep van hulle het gister na die kantoor van Tebogo Motlashuping, waarnemende munispale bestuurder van die ingrypingspan in die metro, opgeruk.
Die doel hiervan was om Motlashuping saam met hul vakbondverteenwoordigers van die munisipale werkersunie, Samwu, te gaan spreek.
‘n Groep amptenare van die metro se afdeling vir water en sanitasie, wat ook oortydbetaling eis, het hulle kort hierna by die groep aangesluit.
Jimmy Motse, streeksvoorsitter van Samwu, het gister teen etenstyd gesê dat die saak opgelos is en dat Motlashuping onderneem het om die oortydbetalings aan die verkeers- en ander beamptes uit te betaal.