Die drie motoriste wie na bewering deur adjunkpresident Paul Mashatile se sekuriteitsbeamptes aangerand is, eis nou elk ‘n miljoen rand skadevergoeding van die minister van polisie.
Volgens News24 sal hulle met ‘n hofstryd voortgaan, indien minister Bheki Cele se departement nie binne een maand hieraan gehoor gee nie. Die aanmaningsbrief maak ook hul voorneme duidelik om siviele eise teen die 8 beskuldigde beamptes in te stel.
Die skadevergoedingseise hou verband met beweerde onregmatige en kwaadwillige aanranding, asook enige trauma wat hieruit sou voortspruit.
Die sogenaamde Bloulig-8, het die drie motoriste na bewering op 2 Julie op die N1-snelweg by Johannesburg aangerand, terwyl hulle deel van Mashatile se konfooi was.
Mashatile hou vol hy was nié op die misdaadtoneel nie. Hy het destyds in ‘n onderhoud met eNCA gesê hy het die eerste keer van die voorval bewus geword, toe hy plasings op sosialemedia gesien het.
Een van die 8 beskuldigdes het egter toe reeds gedurende ‘n hofverskyning gesê dat Mashatile wel daar was. Al agt beskuldigdes is uit op borgtog van R10 000 elk. Die saak begin in Meimaand.