Woedende gemeenskapslede het glo die reg in eie hande geneem deur ’n vermeende inbreker noodlottig aan te rand.
Vier verdagtes is in hegtenis geneem ná die beweerde moord op Ishmael Molahlei in die Ladybrand-distrik.
Volgens ’n polisieverklaring is die slagoffer glo deur woedende lede van die gemeenskap aangerand nadat hy van inbrake beskuldig is.
Hy is in ’n hospitaal opgeneem en later aan sy beserings oorlede.
Die vier beskuldigdes het Maandag vlugtig in die hof verskyn.
Die saak is tot volgende week Maandag uitgestel vir ’n borgtogaansoek.
Die polisie waarsku dat reg nie in eie hande geneem moet word nie, en dat verdagtes sonder geweld aan die owerhede oorhandig moet word.
Meer inhegtenisnemings kan volg.