Die groot probleem waarmee die Spesiale Ondersoekeenheid, of SOE, te make het, is dat staatsamptenane bedank voordat tugstappe teen hulle gedoen kan word vir hul aandeel in staatskaping. Adv Andy Mothibi, hoof van die SOE, het gesê die beste wat hulle kan doen sodat die amptenare nie skotvry daarvan afkom nie, is om hulle steeds deur siviele en strafregtelike hofgedinge aanspreeklik te probeer hou. By Eskom is verskeie respondente in sake reeds weg, maar die SOE monitor dit, het Mothibi gister aan LP’s in die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê. Die SOE moes gister rekenskap gee oor wat hulle tot dusver gedoen het om die aanbevelings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te implementeer. ANC-en opposisie LP’s het hulle kommer uitgespreek oor die slakkepas van die vervolgings en om die nasionale kommissie teen staatskaping en korrupsie te stig.
