Robert Mcbride, die voormalige hoof van die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat, het die inhegtenisneming van verskeie hooggeplaasde lede van die polisiediens verwelkom. Netwerk24 berig ses mense is gister in verband met ‘n polisietender van meer as R54-miljoen vasgetrek. Die tender wat verband hou met die aanskaffing van sosialemedia-moniteringstoerusting en telefoon-enkripsiesagteware is in 2016 toegeken. Die verdagtes, wat twee sakemanne van Durban, ‘n voormalige luitenant-generaal, ‘n huidige luitenant-kolonel en twee generaals-majoor van Pretoria en Bloemfontein insluit, verskyn Woensdag in die hof op aanklagte van bedrog, korrupsie en diefstal.
