Verskeie paaie in die Wes-Kaap is steeds gesluit, nadat die naweek se swaar reën tot oorstromings in groot gedeeltes van die provinsie gelei het.
Laagliggende gebiede is die swaarste getref, met sommige gemeenskappe wat dae lank van die res van die provinsie afgesny was.
Colin Deiner, rambestuurshoof van die Wes-Kaap, het aan SABC gesê vloedwaters het groot verwoesting in die Cederberg-omgewing gesaai.
Die omvang van skade aan infrastruktuur moet nog bepaal word.
Die gekombineerde damvlakke in die Wes-Kaap staan nou op 92%.
Die stad Kaapstad het begin 2018 wêreldwyd opslae gemaak, toe damme hier bykans heeltemal opgedroog het.
Streng waterbeperkings en ‘n skerp verhoging van waterpryse het daartoe bygedra dat die sogenaamde Day Zero nie destyds werklikheid geword het nie.