Die Vrystaat-atletiekstadion in Bloemfontein is sy internasionale akkreditasie by Wêreldatletiek kwyt weens die gebrek aan onderhoud en opknappingswerk deur die plaaslike munisipaliteit.
Maroela Media berig dié status het verlede jaar op 31 Desember verval.
Atlete en afrigters sê nou dít is ʼn hengse slag vir atletiek in die provinsie, aangesien enige rekords wat by dié stadion opgestel word, nie meer op ʼn wêreldverhoog erken word nie.
Ernesta Strydom, ʼn arbeidsterapeut wat vanjaar by die Paralimpiese Spele in Parys betrokke is, verduidelik ʼn baansertifikaat word elke 10 jaar uitgereik ná ʼn inspeksie en daarsonder kan geen rekords – nie Suid-Afrikaanse, Afrika- óf wêreldrekords – hier bevestig word nie.
Werner Pretorius, die DA-woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, sê in ‘n verklaring tydens hul onlangse oorsigbesoek aan die stadion het verskeie kritieke kwessies aan die lig gekom, waaronder die verslegtende baanoppervlak van die tartanbaan, onvoldoende ablusiegeriewe, en hoëmasligte wat nie werk nie.