Die Vryheidsfront Plus sê hy gaan hom tot die Konstitusionele Hof wend nadat die Nasionale Vergadering die Onteieningswetsontwerp aanvaar het.
Die leier van die party, Pieter Groenewald sê die ANC se besluit om die wetsontwerp finaal goed te keur voorspel rampspoed vir Suid-Afrika.
SABC-nuus berig Groenewald sê Suid-Afrika se ekonomie sal vernietig word indien daar geen sekerheid vir enige belegger kan wees oor eiendomsreg nie. Hy sê een van die belangrikste hoekstene van ‘n vryemark-ekonomiese stelsel is die reg op private grond- en eiendomsbesit. Volgens die party vernietig hierdie wetsontwerp dit in alle opsigte.
Die wetsontwerp is Woensdag deur die Nasionale Vergadering aanvaar met 205 stemme ten gunste daarvan en 108 daar teen.
Dit sal nou na president Cyril Ramaphosa verwys word vir bekragtiging.